Waarna is jy opsoek?


Sagtebal


Sagtebal

“Don’t let the fear of striking out, prevent you from playing the game” ~ Babe Ruth
By PNHS besef ons jy mis 100% van die houe wat jy nie vat nie!


PNHS Sagtebal is die sport met die meeste deelname. Ons het sewe Dogters spanne en vyf Seuns spanne in die A liga - en ons groei elke jaar. Met ons passievolle en betrokke ouers en afrigters, van die beste gehalte, kan ons net nuwe hoogtes bereik.

Sagtebal en PNHS Sagtebal geskiedenis

Sagtebal in S.A, Gauteng en Pretoria:

Oom André Wessels noem ons die pa van sagtebal in Pretoria en Gauteng. Sagtebal as ‘n Internasionale sport het sy inslag gekry toe SA in 1960 teen Australia gespeel het en hulle saam besluit het om ander lande te nooi en in 1965 is ISF gestig.

In 1970 is ‘n hoër- en laerskoolspan by senior ligas ingeskryf.1972 speel 3 seunsklubs en Voortrekkerhoogte Hoërskool. Vir dogters was daar 4 junior klubs en Voortrekkerhoogte en Tuine Laerskool.

1979 was daar 9 Laerskole en 7 Hoërskole. Die onderwysers besluit om ‘n NTvl Komitee te stig waarvan Oom André Wessels een was en ook as voorsitter verkies is. Skole het onder die komitee vermeerder in 1980 tot 13 Laerskole en 11 Hoërskole. 1980 stig Oom André SA Skole sagtebal. Hierna is ‘n groot poging aangewend d.m.v. brosjures en om skole te kontak. Vandag is daar meer as 90 skole wat deelneem en meer as 350 spanne. Die S.A. Mans is tans 11de in die wêreld en S.A. Vrouens 22ste. Sagtebal in Suid-Afrika groei jaarliks. Sagtebal is tans ook ‘n Olimpiese sport met ‘n Wêreldbeker elke 2de jaar. Daar word jaarliks 0/15 en 0/19 Gauteng-Noord spanne gekies, asook elke tweede jaar Gauteng spanne, waaruit S.A. spanne gekies word. Sagtebal word deur baie universiteite beoefen wat ook beurse aanbied. PNHS bied baie geleenthede in sagtebal en is dus die regte plek om deure oop te maak.

Ons skool PNHS se sagtebalgeskiedenis:

Oom André het lank gesukkel om Pta Noord te laat byt aan sagtebal, maar in 1992 gebeur ‘n wonderwerk en Mnr. Herman Bester word aangestel as adjunkhoof, en een van sy opdragte was om sagtebal te begin. Die belangstelling was groot. In 1992 het ons 1 onder-14 dogterspan gehad en wen die onder-14 Noord – Transvaal -titel.

Met die hulp van Oom André Wessels, André van Niekerk en tannie Bok (Cynthia) van Niekerk, wat aangebied het om teen geen vergoeding by ons skool af te rig, groei PNHS tot 4 dogterspanne in 1993. In 1994 het ons begin met seunsagtebal, en sagtebal het uit sy nate begin bars 3 van ons 4 dogters spanne wen daai jaar die Noord - Transvaal titels. Ná 30 jaar het ons van 1 span na 12 spanne gegroei en al 13 Springbok-spelers gehad, ‘n Springbok-kaptein en baie provinsiale spelers.

Dankie vir wat Oom André Wessels, André van Niekerk, tannie Bok (Cynthia) van Niekerk en Mnr. Herman Bester vir PNHS en sagtebal gedoen het!



Vir die nuutste uitslae en nog meer foto's volg ons gerus op Facebook:
Facebook blad

Nuutste Nuus


VOORUITSKOUING VAN DIE SEISOEN

Vooruitsigte vir 2026:

Hierdie jaar wil ons graag al ons dogterspanne aan uitspele laat deelneem, deur voorseisoen oefeningsessies en meer blootstelling aan hoëdruk wedstryde tydens die seisoen, deur hulle op Woensdae teen hoër ouderdomme te laat speel. Ons wil meer van ons afrigters en keurders by Gauteng-Noord betrokke kry. Ons wil ook al ons seunspanne by die Gauteng uitspele kry en verbeter op ons 2 goud en 2 silwer.

  • Ons beoog om nog B-spanne te skep.
  • Om onder 13 dogters te betrek waar hulle nie sagtebal by hulle skool het nie.
  • Ons wil ons nuwe batting cages effektief gebruik sodat ons spanne se batting baie ontwikkel.
  • Ons wil meer dogters in Gauteng-Noord spanne kry deur hulle veldwerk, pitching en vorm te verbeter deur voorseisoen oefeninge.

NA DIE SEISOEN: 2025

Die sagtebal seisoen vanjaar het begin met ‘n sagtebaldag (all day rally) op 26 Julie. Dit is bygewoon deur 8 skole, met meer as 800 hoërskooldeelnemers wat 120 wedstryde gespeel het.

Ons het die jaar 8 A-spanne en 4 B-spanne ingeskryf in die TSSA liga, wat die meeste spanne tot dusver was. 5 van ons 8 A-spanne het in beide die semi-finaal asook finaal gespeel, wat die meeste spanne van enige skool was. Ons O/15 en O/19-seuns verower goud in Gauteng-Noord, terwyl ons O/14 en O/16-seuns silwer verower het. Die O/16A sagtebaldogters behaal ʼn 2de plek (Silwer) in Gauteng-Noord. Ons O/15 en O/19 seuns het ook die Gauteng kampioenskappe gewen. Ons skool het 1 batter wat gekroon word as die beste batter in sy ouderdomsgroep, en een catcher en een pitcher wat as die beste in hulle ouderdomsgroep in die TSSA liga aangewys is.

27 van ons spelers het die Noord-Gauteng spanne gehaal en 3 spelers die Gauteng span. 1 speler is gekies vir die S.A mansspan. Dit alles met die hulp van hulle uitstekende afrigters, waarvan 8 al jare lank provinsiaal speel. 4 van hierdie afrigters het ook al vir die SA-span gespeel. Met al hierdie talent is dit verseker dat hierdie spanne nog hoë hoogtes gaan bereik.

AFRIGTERS / PERSONEEL BETROKKE 2026

Pitcher afrigters

Pierre Neethling en Nuska de Beer

N.B: (Begin reeds in eerste week van Mei en ook in vakansie)


Gallery



Terug