Waarna is jy opsoek?


Jukskei


Jukskei

Jukskei is ‘n unieke, tradisioneel Suid-Afrikaanse sportsoort waarvan die oorsprong so ver terug as 1734 gevoer kan word. Daar word met skeie gegooi na ‘n pen in ‘n sandput en punte word toegeken vir die raakgooi van penne, sowel as vir die plasing van skeie. Dit is ‘n sportsoort wat beide goeie koördinasie, asook strategiese denke verg. Die sportsoort word hoofsaaklik in die derde kwartaal beoefen.


Ons afrigters vir 2027

Oom Gerhard Neveling, self ‘n senior provinsiale jukskeispeler, rig die verskillende spanne af. Daar word verder gepoog om ontwikkelingsklinieke te hou met buite-afrigters wat Springbokspelers insluit.

Op hoërskoolvlak word jukskei in twee ouderdomsgroepe gespeel – onder 16 en onder 19. Daar is seuns-, meisie- en gemengde spanne. Die aantal spanne wissel na gelang van die aantal spelers – in 2026 het Hoërskool Pretoria-Noord ses spanne in die Gauteng-Noord liga ingeskryf.

Jan Gerhardus Lodiwikus Neveling - Afrigter - Alle groepe

Josef Johannes Gouws - Organiseerder

Terugkyk op 2026

PNHS se jukskeispanne het groot sukses in 2026 behaal. Hulle het absolute sportmansgees aan die dag gelê en sonder ophou koelkop volhard. Sou daar by wedstryde ‘n geesbeker gewees het, sou hulle dié ook ingepalm het.

Hoogtepunte en prestasies van 2026

Beide die o19A seuns- en meisiespanne wen die Gauteng-Noord Liga deur met spanne van onder meer AHS, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Zwartkop af te reken. As liga-wenners verteenwoordig hulle Gauteng-Noord by die Noordvaal Jukskei Kompetisie waar beide spanne tweede eindig bo skole soos Helpmekaar Kollege.

‘n O16A seuns-uitnodigingspan van die skool neem op 24 September 2026 deel aan ‘n inter-provinsiale toernooi gereël deur Jukskei Suid-Afrika. Daar eindig hulle weereens tweede.

Tien van die skool se spelers kry keuring om verskillende provinsies by die SA Junior Jukskeikampioenskappe van 5 tot 12 Desember 2026 te verteenwoordig.

Hulle is:

  • Zoë Jonker (Sedibeng)
  • Tyler Neveling (Gauteng-Oos)
  • Nicole Guelpa (Noordwes)
  • Anuske Van Dyk-Stroebel (Gauteng-Noord)
  • Jayden de Villiers (Gauteng-Noord)
  • Michael de Villiers (Gauteng-Noord)
  • MP O’ Grady (Gauteng-Noord)
  • Kylie Steyn (Gauteng-Noord)
  • Amy Bal – Noordwes
  • JP van der Westhuizen – Kaapse Wynland

Uit hierdie spelers is Tyler Neveling einde 2025 gekies vir die o16A Suid-Afrikaanse seunsspan, terwyl Anuske Van Dyk-Stroebel ingesluit is by die o16 SA Akademie span en Zoë Jonker by die o16 SA Ontwikkelingsspan.

Jaarbeplanning, Bepalings en Kwartaalprogramme

Liga-bepalings word eers in die tweede halfte van die tweede kwartaal vasgemaak by Gauteng-Noord Skole-jukskei se Algemene Jaarvergadering.

Die liga-bepalings is gewoonlik op twee Saterdae vroeg in Agustus en indien daar deurgegaan word na die Noordvaal kampioenskappe, vind dit gewoonlik omtrent twee weke daarna plaas.

Proewe sal in die laaste week van kwartaal 2 plaasvind, gevolg deur ‘n beplande ontwikkelingskliniek die eerste Saterdag van die vakansie (26 Junie). Laasgenoemde sal by die eerste Jukskei Akademievergadering van 9 Februarie 2027 bevestig word.

Oefentye is gewoonlik van 14:30 tot 16:00 op Maandae en Woensdae in die eerste weke van kwartaal 2.



Vir die nuutste uitslae en nog meer foto's volg ons gerus op Facebook:
Facebook blad

Nuutste Nuus



Gallery



Terug