Waarna is jy opsoek?


Hokkie


Hokkie

Hokkie is ‘n spansport wat fiksheid, koördinasie, balvaardigheid en samewerking in spanverband vereis en bevorder. PNHS spog met 5 dogterspanne en 1 seunspan. Al ons dogterspanne neem deel aan die Stadsbeker-liga sowel as die jaarlikse PUK-16 reeks. Tydens die af seisoen skenk ons aandag aan fiksheid en kondisionering. PNHS hokkie fokus op die ontwikkeling van spelers, tegniese vaardighede, spelbewustheid en kondisionering.


Ons afrigters vir 2027

Eerste span dogters:
Stiena Bornman (Hoofafrigter)
Vlak 1 Afrigter SAHA geakkrediteerd
Verskeie AVS Nasionale spanne afrigter en spanbestuurder, 24jaar ondervinding

Eerste span seuns:
Gaby Neyt
Afrigtingservaring op hoërskoolvlak (o.16 A- en B-spanne), asook bestuurservaring op provinsiale en nasionale toernooivlak, en is self ’n ervare eerstespan-, Premierliga- en provinsiale hokkiespeler wat tans vir Chippas Hokkieklub se eerste span speel.

Hulpafrigter: Kaitlyn Mon

Tweede span:
Gregory van Aswegen
Vlak 1 Afrigter SAHA geakkrediteerd, SACD Northerns Blues-speler

O.16A:
Elske Du Toit
Vlak 0 Afrigter SAHA geakkrediteerd

O.15A:
Marné Driescher (Organiseerder)
Vlak 1 Afrigter SAHA geakkrediteerd

Marizaan Lerm (Hulporganiseerder)

O.14A:
Ansebe Prinsloo
Vlak 1 Afrigter SAHA geakkrediteerd
Premierliga- en provinsiale hokkiespeler wat tans vir Brooklyn Hokkieklub se eerste span speel.

Terugkyk op 2026 en Hoogtepunte en prestasies

‘n Jaar van oorwinnings, deursettingsvermoë en Noorde-trots!

2026 was voorwaar ’n uitsonderlike jaar vir Hoërskool Pretoria-Noord se hokkie! Dit was ’n seisoen gevul met harde werk, deursettingsvermoë, spanwerk en indrukwekkende prestasies. Ons hokkiespelers het nie net hul staal op die veld gewys nie, maar ook bewys dat passie en toewyding die sleutel tot sukses is.

Die NWU PUK-reeks het die seisoen op ’n hoogtepunt afgeskop. Ons eerste dogterspan, eerste seunspan en o.16-dogterspan het almal tot die finaal deurgedring en ons skool met trots verteenwoordig. Hierdie prestasies het reeds vroeg in die seisoen gewys dat PNHS-hokkie gereed was om groot hoogtes te bereik!

Die sukses het gedurende die Northerns ligaseisoen voortgeduur. Ons seunspan het as ligawenners uit die stryd getree, terwyl ons tweede dogterspan, eerste dogterspan en o.16-dogterspan ook hul onderskeie ligatitels ingepalm het.

Hierdie uitsonderlike spanprestasies het daartoe gelei dat PNHS die G3-liga gewen het en in 2027 na die uitdagende G2-liga opskuif! Dit is ’n besonderse mylpaal vir ons hokkie en ’n bewys van die groei en ontwikkeling wat die sport by ons skool beleef.

Ons eerste dogterspan en o.16-dogterspan het ook die voorreg gehad om PNHS op die gesogte Noordvaal-toernooi te verteenwoordig, waar hulle teen van die sterkste skolespanne meegeding het en waardevolle ervaring opgedoen het.

Benewens ons spanprestasies het verskeie spelers ook op individuele vlak uitgeblink deur keurings vir die AVS Bokkieweek-spanne te ontvang:

  • Klara Strydom – Gekies vir die o.19 Nasionale AVS-span.
  • Charney Badenhorst – Gekies vir die o.17 AVS Noord-span.
  • Danika du Plessis – Gekies vir die o.17 AVS Noord-span. Ons is ongelooflik trots op hierdie spelers wat PNHS se naam ook buite die skoolgrense hoog hou!

By PNHS glo ons dat sukses nie net tydens wedstryde gebou word nie, maar reeds lank voor die eerste fluitjie blaas. Ons hokkieseisoen begin reeds in die vierde kwartaal met voorbereiding en vaardigheidsontwikkeling. Spelers kry ook deur die jaar die geleentheid om die gimnasium onder toesig van ’n gekwalifiseerde instruktrise te benut. Ons moderne astro-oppervlak bied verder die ideale geleentheid om tegniese vaardighede te ontwikkel en spelers vir mededingende hokkie voor te berei.

’n Verdere hoogtepunt op ons hokkiekalender is die jaarlikse interne sewes-hokkietoernooi, waar leerders en personeel saamkom vir ’n dag propvol hokkie, pret en skoolgees. Hierdie geleentheid herinner ons daaraan dat hokkie oor soveel meer as net oorwinnings gaan – dit gaan ook oor vriendskappe, samehorigheid en onvergeetlike herinneringe.

Wanneer ons terugkyk op 2026, doen ons dit met groot dankbaarheid en trots. Elke speler, afrigter, ouer en ondersteuner het ’n waardevolle rol in hierdie suksesvolle seisoen gespeel.



Vir die nuutste uitslae en nog meer foto's volg ons gerus op Facebook:
Facebook blad

Nuutste Nuus



Gallery



Terug