Redenaars

Redenaars bevorder leerders se vermoëns om voor ‘n gehoor met selfvertroue te kan praat, standpunt te kan inneem en ‘n gehoor daarvan te oortuig. PNHS kweek sterk sprekers met ‘n opinie! Onthou, jou woorde het meer krag as ‘n atoombom – kies daarom joune wys en maak jou stem dik deur deel te word van PNHS se redenaarspan.
PNHS bied verskeie redenaars geleenthede vir voorbereid en onvoorbereide sprekers aan. Voorbereide redenaars verg van leerders om ‘n toespraak te hê wat tussen 5 en 7 minute lank is. Hierdie toespraak moet aan spesifieke vereistes voldoen om sodoende gepas te wees.
Onvoorbereide redenaars is waar leerders tussen een en twee uur voor die praattyd ‘n onderwerp en bronne ontvang en in die gegewe tyd ‘n toespraak moet skryf. Hierdie kategorie verg van leerders om bewus te wees van aktuele sake, om idiomatiese uitdrukkings te verslind en om goed op hul voete te kan dink. Die organiseerder van die redenaars bied die nodige bystand om te verseker dat toesprake voldoende is en dat die leerders oor die nodige kennis en vaardighede beskik voordat hulle gaan praat.
As jy sou kies om deel te word van die redenaarsspan kan jy jouself vir die volgende regmaak: Ons skop af met ‘n interne “Raakpraat Redenaars” kompetisie wat vroeg in Februarie plaasvind. Op hierdie wyse word daar vasgestel watter leerders deurdring na die eksterne kompetisies.
Die eerste groot, nasionale kompetisie, waaraan ons deelneem is die ATKV Redenaars in Aprilmaand. Hier is verskeie rondtes wat dan uiteindelik by die nasionale rondte eindig. In kwartaal drie is daar verskeie kompetisies soos Radikale Redenaars, Kans!Vatter en ook OppiTongAf-Redenaars waarvoor PNHS se redenaarsleerders ingeskryf word – ook op nasionale vlak.
Daar gaan baie voorbereiding in elke leerders se toespraak en aanbiedingsvaardighede in. Elke leerder moet minstens een maal per week vir ‘n uur oefen om sodoende te verseker dat hul toespraak die regte lengte is, die bronne reg aangehaal is en dat elke spreker die nodige sjarme en emosie aan hul toespraak koppel.
Onvoorbereide leerders woon ook die oefening by om hul kognitiewe denkvlakke te bevorder en aan te wakker. Hier leer hul hoe om idiomatiese uitdrukkings te gebruik en standpunt in te neem.
AFRIGTERS / PERSONEEL BETROKKE:
Juffrou K. Avenant (Organiseerder)
Vir die nuutste uitslae en nog meer foto's volg ons gerus op Facebook:
Facebook bladNuutste Nuus
Vanjaar se redenaars-seisoen het afgeskop op 12 Februarie met ons Interne Redenaars. Bykans dertig sprekers het hulle stemme kom dik maak en die volgende wenners is aangekondig:
Junior voorbereid: Zené Swart
Junior onvoorbereid: Zanmari Kriel
Senior voorbereid: Mia Rynners
Senior onvoorbereid: Marique Bam