Waarna is jy opsoek?
Gewilde soektogte
Omsendbrief 37/2026
Administratief
November 02, 2026
OB: 37 / 2026
Geagte ouers
1. Lief en Leed
Baie sterkte aan ons graad 8 en 9 leerders en ouers wat hierdie week begin met hul eindeksamen!
2. Algemene Ouervergadering, 11 November 2026
Geagte ouers, neem asseblief kennis dat ons Algemene Jaarvergadering vir ouers, waar ons taal- en toelatingsbeleide goedgekeur sal word en waar die begroting vir 2027 voorgelê, bespreek en goedgekeur sal word, nou geskeduleer is vir Woensdag, 11 November 2026 om 18:00 in die saal. Ons kon ongelukkig nie ‘n kworum bereik op 28 Oktober 2026 nie. Ons nooi weereens al ons ouers hartlik uit om deel te wees van hierdie baie belangrike vergadering om u insette te lewer. Ons opvolgvergadering van Woensdag, 11 November 2026 om 18:00 in die saal sal voortgaan al is daar nie ‘n kworum nie.
3. “Lig van Kersfees” fees, 21 November 2026, 18:00, A-rugbyveld
Ons nooi al ons ouers en leerders uit na hierdie eerste! Ons sal graag ons jaar wil afsluit in die gees van Kersfees met ons eerste “Lig van Kersfees” fees. Kom geniet ‘n aand van kersliedere en saamwees met onder andere Laerskool Danie Malan se juniorkoor, ons eie PNHS koor, NG Kerk Florauna, Franzelle Dorfling, Marlia Botha en ook van ons PNNK finaliste. Ons PNHS personeel is ook tans besig om hard te oefen vir ‘n paar verrassingsitems!
Bring gerus ‘n kampstoel of ‘n kombers en ‘n piekniekmandjie saam. Daar sal ook stalletjies wees.
- Toegang: R50,00 per persoon.
- Koelhouer / piekniekmandjie: ekstra R50,00.
- Ons versoek ook dat elke gesin ‘n blikkie nie-bederfbare kos sal saambring in die gees van Kersfees ten bate van ons Noorderlig.
Kom sluit die jaar saam met ons af met dankbare harte en vier die lig en hoop van Kersfees saam met ons. Ons sien uit daarna om u by ons te ontvang.
Kaartjies kan verkry word by ons Finansies kantoor of by u kind se voogonderwyser.
4. “Kersfees met Coenie”, 28 November 2026, 14:00, PNHS Saal
Nog ‘n geleentheid wat u nie moet misloop nie!
NG Kerk Wonderpark in samewerking met PNHS bied die “Kersfees met Coenie” konsert aan waar die Afrikaanse musiekikoon, Coenie de Villiers, ‘n middagkonsert gaan aanbied in die saal van PNHS op 28 November 2026 om 14:00.
Kaartjies is te koop teen R250,00 per persoon by die Finansies kantoor van PNHS, of u kan ook met Intronette by NG Kerk Wonderpark skakel by 082 874 6759 vir kaartjies.
5. Program vir die week
Maandag, 2 November
- Graad 8 – 11, Eindeksamen.
- Graad 12 NSS Eksamen.
Dinsdag, 3 November
- Graad 8 – 11, Eindeksamen.
- Graad 12 NSS Eksamen.
- PN-Raad & VLR Leierafsluiting (11:30, klubhuis).
Woensdag, 4 November
- Stemdag: Munisipale Verkiesings 2026.
Donderdag, 5 November
- Graad 8 – 11, Eindeksamen.
- Graad 12 NSS Eksamen.
- Revue afsluiting (18:00, Barnyard). Leerders vertrek vanaf PNHS om 16:45 vir 17:00 en is terug by PNHS om en by 22:40.
Vrydag, 6 November
- Graad 8 – 11, Eindeksamen.
- Graad 12 NSS Eksamen.
- Krieket Eindjaarfunksie (14:30, Krieketveld & PNHS Klubhuis).
Maandag, 9 November
- Graad 8 – 11, Eindeksamen.
- Graad 12 NSS Eksamen.
Vriendelike Groete
Mnr. CJC Driescher, Hoof
