Omsendbrief 2/2023

Omsendbrief 2/2023


Administratief
January 16, 2023


OB: 2 / 2023

Geagte ouers
Atletiek: Interhuis, 13 Januarie 2023

Ons was baie bevoorreg om Vrydag ons atletiekseisoen op ‘n goeie noot af te skop met ons interhuis.

Uitslae:
Atheners 1263
Romeine 953⅟₂
Spartane 903⅟₂

Geluk aan die Atheners wat die vorige jaar se kampioene, die Romeine, ore aangesit het!

Geluk aan die volgende atlete met hulle individuele prestasies:

Rekords gebreek:

  • Simoné de Koker: 3000m Dogters 0/15 met 11:32.60 (Nuwe item)
  • Schalk Fourie: 3000m Seuns 0/17 met 10:23.00 (Vorige Rekord: Stephan van Wyk: 10:33.0: 2021)
  • Shon-dre Scheun: 400M: Seuns 0/15 met 56:07 (Vorige Rekord: Morné Fourie: 56:41 in 2012)
  • Leana Bezuidenhout: Hoogspring: dogters 0/14 met 1,45m (Ewenaar vorige rekord: Y Dreyer: 1,45m in 2000) Trofeë verower:
  • Beste Dogters veldatleet: Wilné Kriel: 791 ASA punte: 0/17 Gewigstoot.
  • Beste Seuns veldatleet: MC Swanepoel: 721 ASA punte: 0/15 Gewigstoot.
  • Beste Dogters baanatleet: Simoné de Koker: 758 ASA punte: 0/15 3000M.
  • Beste Seuns baanatleet: Schalk Fourie: 725 ASA punte: 0/17 1500M..
  • Veelsydigste Dogtersatleet: Leana Bezuidenhout: (4 items): 2432 ASA punte.
  • Veelsydigste Seunsatleet: Schalk Fourie: (6 items): 3685 ASA punte.
  • Junior Victor Lodorum: Shon-dre Scheun: 1879 ASA punte.
  • Junior Victrix Lodorum: Simoné de Koker: 2078 ASA punte.
  • Senior Victor Lodorum: Schalk Fourie: 2117 ASA punte.
  • Senior Victrix Lodorum: Deoné Meintjies: 2119: ASA punte.

Ons eerste byeenkoms is eerskomende Vrydag by H/S Wonderboom. Skool sluit om 13H45.

Skoolfonds 2023

Ons skoolfonds vir 2023 beloop R 21 670-00 vir die jaar. U kan dit eenmalig betaal of in elf paaiemente van R 1 970 - 00 per maand vanaf Januarie tot November. U sal R 500-00 korting ontvang indien u volledig betaal het voor of op 28 Februarie 2021.

Let asseblief daarop dat skoolfonds benodig word om kwaliteit onderrig aan ons kinders te lewer.

Maak asseblief seker dat u die skoolfondsdokumentasie voltooi, wat u vandag sal ontvang en stuur asseblief Bylaag A en B terug aan die skool. Neem kennis dat Bylaag B nie ‘n vrystellingsvorm is nie, vrystellingsvorms is alleenlik beskikbaar by mev Strydom in die Finansiële kantoor, dit moet persoonlik afgehaal word. Dit kan ook per e-pos by [email protected] aangevra word.

Gedragskode

Gaan asseblief die gedragskode van die skool saam met u kind deur; wat in die huiswerkboekie verskyn. Voltooi dan asseblief die skeurstrokie voor in die huiswerkboek dat u wel kennis geneem het en stuur terug aan u kind se voogonderwyser. Ons doen ‘n beroep op al ons ouers om die skool te ondersteun in die nakoming van die skool se gedragskode sodat ons ‘n hoë vlak van dissipline kan bly handhaaf by ons skool.

H/S Pretoria-Noord 1943 - 2023: Tagtigjarige Bestaansvieringe

Dankie vir almal wat ons mandjiedans bygewoon het, dit was sommer ‘n lekker afskop vir ons Tagtigjarige vieringe.

Eerskomende Donderdag is die skool se amptelike 80ste verjaarsdag. Leerders kom in gewone klere skool toe en sal die dag aan boeresportaktiwiteite in klasverband deelneem. Ons vra dat elke leerder vir die skool ‘n “geskenkie” sal saambring in die vorm van ‘n skenking vir Noorderlig vir ons minder bevoorregte leerders en gesinne. Noorderlig versoek die volgende skenkings per graad:

Graad 8: Enige blikkies kos byvoorbeeld tuna / suikermielies ens. Graad 9: Onbyt pap / rys Graad 10: Koffie / tee / suiker Graad 11: Pasta / Mieliemeel Graad 12: Toiletware byvoorbeeld spuitgoed / “roll on” / tandepaste / seep.

Beheerliggaam ampte verkiesing, 11 Januarie 17H30, restaurant:
  • Baie geluk aan Mnr. D. Pieterse wat verkies is tot voorsitter, Mnr. C. Botha tot onder-voorsitter en Mnr. G. Joubert tot tesourier van die Beheerliggaam van H/S Pretoria-Noord.
  • Mev. H Haarhof is gekoopteer met stemreg as voorsitter van die Akademie vir Leerder Prestasie.
  • Dr. L Scholtz en Mnr. S Samons is gekoopteer as lede sonder stemreg.
  • Mej. M Basson is verkies tot personeelverteenwoordiger op die beheerliggaam in die plek van Mev. G Petrowski (Prins) wat bedank het.
Beheerliggaam Tussenverkiesing, 16 Februarie 2023

Neem asseblief kennis van hierdie tussenverkiesing. Volgens regulasies kan ‘n ouer net op ‘n beheerliggaam dien vir so lank sy / haar kind ‘n ingeskrewe leerder by die skool is. Dit laat ons met twee vakante poste op die beheerliggaam met Mr. H Bronkhorst en Dr. L Scholtz wie se kinders in 2022 gematrikuleer het. Die tussenverkiesing vir hierdie doel sal gehou word op Donderdag, 16 Februarie 2023 in die skoolsaal om 18H00. Die nominasievergadering sal plaasvind van 18H00 – 18H30 en die verkiesing vanaf 18H30 – 19H00. Indien die vereiste kworum van 15% stemgeregtigde ouers nie behaal word nie sal ‘n opvolgverkiesing plaasvind twintig dae later op Woensdag, 8 Maart 2023 om 18H00 en die verkiesing sal dan voortgaan met of sonder ‘n kworum.


Program vir die week
Maandag, 16 Januarie:
  • Graad 8 – 12, dag 1.
  • VLR nominasies begin.
  • Graad 8 maroelapit-inburgeringsprogram, 14H15 – 15H15.
  • Swem: Interhuis, 16H00 – 18H00, Deon Malherbe swembad (Braam Pretorius straat). Busse vertrek om 15H30 by PNHS.
  • PNHS Rugby-akademievergadering, 18H00, konferensiekamer.
  • PNHS Hokkie-akademievergadering, 18H00, K15.
Dinsdag, 17 Januarie:
  • Graad 8 – 12, dag 2.
  • VLR nominasies.
  • Graad 8 maroelapit-inburgeringsprogram, 14H15 – 15H15.
  • Senior tennisproewe, 15H00 – 16H30, PNHS tennisbaan.
  • Redenaars werkswinkel, 15H00 – 17H00, K 19.
Woensdag, 18 Januarie:
  • Graad 8 – 12, dag 3.
  • VLR nominasies sluit om 14H00.
  • Graad 8 maroelapit-inburgeringsprogram, 14H15 – 15H00.
  • Groentjiekonsert, 18H00, saal
Donderdag, 19 Januarie:
  • PNHS 80ste verjaarsdag: PNHS Pretdag.
  • VLR verkiesing: Manifsto-dag, 08H00, voogklasse.
  • Swem: Liga 1, 14H30, Crawford College.
  • Groentjiekonsert, 18H00, saal.
Vrydag, 20 Januarie:
  • Graad 8 – 12, dag 4.
  • Skool sluit om 13H45.
  • Atletiek: Liga 1, 14H30, H/S Wonderboom.
Maandag, 23 Januarie:
  • Graad 8 – 12, dag 5.
  • Detensie 14H15 – 16H15.
  • Tennis: Oefening juniors & seniors, 15H00 – 16H30, PNHS tennisbane.
  • Debat werkswinkel, 15H00 – 17H00, K7.
  • Gasvryheidstudie Akademie vergadering, 18H00, restaurant.

Vriendelike Groete
CJC Driescher Hoof

Aflaai aanhangsel

Terug