Omsendbrief 1/2021

Omsendbrief 1/2021

Administratief
January 26, 2021


Geagte ouers

Hartlik welkom terug by die skool aan almal. Ons gebed is dat u en u kind ‘n baie voorspoedige en geseënde jaar saam met ons sal beleef. ‘n Spesiale woord van welkom ook aan al ons nuwe graad 8 leerders en ouers wat by ons aangesluit het.

Lief en Leef

Baie welkom aan die volgende personeel wat by ons aangesluit het:

  • Mej. E van der Linde (Wiskunde) in die plek van Me. Lubbe wat oorgeplaas is na H/S Uitsig.
  • Onderwys assistente wat by ons aansluit: Mnr. R Steyn, Mnr. H Badenhorst en Mev. N. Nortjé.
Uitslae 2020
  • Graad 8 het ‘n slaagsyfer van 99% met 2 druipelinge.
  • Graad 9 het ‘n slaagsyfer van 100% met 0 druipelinge.
  • Graad 10 het ‘n slaagsyfer van 97% met 5 druipelinge.
  • Graad 11 het ‘n slaagsyfer van 99% met 1 druipeling.
Heropening van skole

Soos wat u reeds op nasionale nuus die boodskap van die president ontvang het wil ons net weer met u bevestig dat die heropening van skole as volg sal plaasvind:

  • Bestuurspanne en ondersteuningspersoneel - 25 Januarie 2021
  • Onderwyspersoneel - 1 Februarie 2021
  • Leerders - 15 Februarie 2021

Alhoewel dit teleurstellende nuus was vir die personeel en bestuur van H/S Pretoria-Noord sal ons dienooreenkomstig die nodige aanpassings maak om te sorg dat u kind nog steeds die beste onderrig ontvang en het ons die vaste geloof dat daar binnekort na normaal terug gekeer sal word.

Hou asseblief die volgende in gedagte:

  • Volgens die nuwe voorgestelde skoolkalender sal kwartaal 1 wees vanaf 15 Februarie 2021 tot 23 April 2021. Groep A sal op 15 Februarie 2021 begin en Groep B sal op 16 Februarie 2021 begin.
  • Volgens die sosiale afstand wat gehandhaaf moet word en die grootte van ons klasse, word ons weer geforseer om die rotasiestelsel te volg met ‘n A en B groep wat op alternatiewe dae skool sal bywoon.
  • Soos verlede jaar sal graad 10, 11 en 12 se groep A alle vanne A tot L wees en groep B alle vanne M tot Z.
  • Graad 9 A: A tot J groep A en K tot V groep B. Graad 9 B: A tot M groep A en O tot W groep B. Graad 9 C: A tot Maré groep A en Matthysen tot W groep B. Graad 9 D: A tot McAthur groep A en Mmako tot W groep B. Graad 9 E: A tot Muller groep A en Murray tot W groep B. Graad 9 F: A tot Makau groep A en Manamela tot W groep B.
  • Graad 8 A: A tot Malan groep A en Maré tot V groep B. Graad 8 B: A tot L groep A en M tot W groep B. Graad 8 C: A tot Landsberg groep A en Lottering tot Z groep B. Graad 8 D: A tot Leibrandt groep A en Lottering tot V groep B. Graad 8 E: A tot M groep A en O tot Y groep B
  • Alle COVID-regulasies soos wat teen einde 2020 gegeld het sal voortgesit word.
  • Die skooldag sal weer van Maandag tot Donderdag tot 15H00 strek en op Vrydae tot 14H00.
  • Alhoewel Atletiek Suid-Afrika reeds alle skole atletiek gekanselleer het, wil dit blyk dat die wintersport kodes en Pretoria ligas wel moontlik gaan plaasvind. Ons sal der halwe dadelik begin met wintersport, nie-kontak oefen-programme ten einde seker te maak dat ons spelers gereed is. Die fokus sal wees op fiksheid en vaardighede binne COVID regulasies.
  • Ons kultuuraktiwiteite sal ook binne die raamwerk van die COVID - regulasies hervat word met Tshwane Jeug Kunstefees wat reeds ‘n aanduiding gegee het dat hulle beoog om in 2021 hulle aktiwiteite te hervat.
Uitdeel van leermateriaal

Ten einde ons leerders so vinnig doenlik moontlik aan die gang te kry en verlore onderrigtyd op te vang sal ons graag leerders se leermateriaal by hulle wil uitkry sodat die aanlyn-onderrig proses solank kan begin en geen onderrigtyd verlore gaan wanneer die skool weer op 15 Februarie vir leerders begin nie.

Om dit te bereik sal ons graag binne COVID-regulasies die volgende reëlings deurgee:

  • Leerders kom op hul voorgeskrewe dag en tyd na die skool.
  • Leerders teken in by die Berglaanhek en ontvang hul 2021 voogklas hier.
  • Leerders beweeg dan na hul voogklas en ontvang dan hul pakkie handboeke en skrifte, teken daarvoor en verlaat direk daarna weer die terrein:

Graad 12: Groep A, Woensdag, 3 Februarie vanaf 10H00 – 11H00. Graad 12: Groep B, Woensdag, 3 Februarie vanaf 11H00 – 12H00. Graad 11: Groep A, Donderdag, 4 Februarie vanaf 09H00 – 10H00. Graad 11: Groep B, Donderdag, 4 Februarie vanaf 10H00 – 11H00. Graad 10: Groep A, Vrydag, 5 Februarie vanaf 09H00 – 10H00. Graad 10: Groep B, Vrydag, 5 Februarie vanaf 10H00 – 11H00. Graad 9: Groep A, Maandag, 8 Februarie, 09H00 – 10H00. Graad 9: Groep B, Maandag, 8 Februarie, 10H00 – 11H00.

Graad 8: Maroelapitte inburgering
  • Vanweë die afkondiging kon ons nie met ons beplande inburgeringsprogram vir graad 8 voortgaan op 25 en 26 Januarie 2021 nie.
  • Hierdie program sal nou plaasvind op Dinsdag, 9 Februarie om 08H00 – 09H00 vir beide groepe A en B. Op Woensdag, 10 Februarie 08H00 – 12H00 vir ons Groep A leerders en Donderdag, 11 Februarie 08H00 – 12H00 vir ons groep B leerders.
SOS Wolkskool

Ten einde ons aanlyn-onderrig nog verder te versterk sal H/S Pretoria-Noord vanaf 2021 een van SOS se loods-skole word vir hul nuut aangepaste Wolkskool, wat onderneem om in 19 vakgebiede oor al die grade hand aan hand met die departementele sillabus ondersteunende aanlyn-onderrig te voorsien.

Ons beheerliggaam het tydens die begroting fondse geallokeer ten einde elke leerder van H/S PretoriaNoord hiervoor te registreer. Ons is tans hard besig om elke leerder daarvoor te registreer en sal eersdaags verdere inligting gee daaroor. Ons glo vas dat dit PNHS se akademie geweldig gaan bevoordeel selfs in nieCOVID omstandighede.

Skoolfonds 2021

Ons skoolfonds vir 2021 beloop R 18 700-00 vir die jaar. U kan dit eenmalig betaal of in elf paaiemente van R 1 700 - 00 per maand vanaf Januarie tot November. U sal R 500-00 korting ontvang indien u volledig betaal het voor of op 28 Februarie 2021.

Let asseblief daarop dat skoolfonds benodig word om kwaliteit onderrig aan ons kinders te lewer.

Maak asseblief seker dat u die skoolfondsdokumentasie voltooi en Bylaag A en B terugstuur aan die skool. Neem kennis dat Bylaag B nie ‘n vrystellingsvorm is nie, vrystellingsvorms is beskikbaar by mev Strydom in die Finansiële kantoor.

Gedragskode

Gaan asseblief die gedragskode van die skool saam met u kind deur; wat in die huiswerkboekie verskyn. Voltooi dan asseblief die skeurstrokie voor in die huiswerkboek dat u wel kennis geneem het en stuur terug aan u kind se voogonderwyser.

Ons doen ‘n beroep op al ons ouers om die skool te ondersteun in die nakoming van die skool se gedragskode sodat ons ‘n hoë vlak van dissipline kan bly handhaaf by ons skool.

Leerder Ondersteuning Akademie: Noorderlig
  • Noordehoekie tye: 9 tot 11 Februarie: 08H00 tot 10H00. 15 – 19 Februarie: 08H00 tot 10H00.

  • Daar is ‘n Noorderlig ouervergadering op 22 Februarie 2021 om 18H00 in die restaurant vir al ons ouers wat belangstel om deel te word van die PNHS omgee groep. Onthou: saam maak ons ‘n verskil!

Aflaai aanhangsel

Terug