Omsendbrief 1/2020

Omsendbrief 1/2020


Administratief
January 15, 2020


Geagte ouers

Hartlik welkom terug by die skool aan almal. Ons gebed is dat u en u kind ‘n baie voorspoedige en geseënde jaar saam met ons sal beleef. ‘n Spesiale woord van welkom ook aan al ons nuwe graad 8 leerders en ouers wat by ons aangesluit het.

Lief en Leed

Baie welkom aan die volgende personeel wat by ons aangesluit het:

  • Mev. J Reinecke (Wiskunde en Algemene Wetenskap) in die plek van Mnr. D Retief wat bedank het.
  • Mnr. K van Rensburg as sportkoordineerder in die plek van Mnr. N Venter wat bedank het.
  • Mnr. I Moseki van die Titans as hoofafrigter vir Krieket in die plek van Mnr. S Lindeque wat bedank het.
Uitslae 2019
  • Graad 8 het ‘n slaagsyfer van 98% met 4 druipelinge.
  • Graad 9 het ‘n slaagsyfer van 97% met 6 druipelinge.
  • Graad 10 het ‘n slaagsyfer van 99% met 2 druipelinge.
  • Graad 11 het ‘n slaagsyfer van 99% met 1 druipeling.
  • Graad 12 het ‘n slaagsyfer van 96% met 6 druipelinge. 71% van ons kandidate het universiteitstoelating behaal. ‘n Totaal van 126 onderskeidings en 179 B-simbole is behaal. Ons beste presteerders was:
    1. Anneri Basson (6 onderskeidings en 86,5% gemiddeld),
    2. Dawid Wanneburg (6 onderskeidings met 84,5% gemiddeld)
    3. Wanica Erasmus (6 onderskeidings en 83% gemiddeld)
    4. Herco Heystek (5 onderskeidings met 83,1% gemiddeld)
    5. Mari Grobbelaar (5 onderskeidings met 83% gemiddeld)
    6. Kristin Smith (5 onderskeidings met 82,5% gemiddeld)
    7. Alicia van Rooyen (5 onderskeidings met 79% gemiddeld)
Skoolfonds 2020

Ons skoolfonds vir 2020 beloop R 18 150-00 vir die jaar. U kan dit eenmalig betaal of in elf paaiemente van R 1 650 - 00 per maand vanaf Januarie tot November. U sal R 500 - 00 korting ontvang indien u volledig betaal het voor of op 28 Februarie 2020.

Maak asseblief seker dat u die skoolfondsdokumentasie voltooi en Bylaag A en B terugstuur aan die skool. Neem kennis dat Bylaag B nie ‘n subsidievorm is nie, subsidievorms is beskikbaar by mev Strydom in die Finansiële kantoor.

Skooltye vir 2020

Die skool sal Maandag tot Vrydag soggens begin om 07H20 en om 14H00 uitkom. Graad 12’s sal op Maandae, Dinsdae en Donderdae ‘n addisionele akademiese uur tot 15H00 hê en graad 8 tot 11 op Woensdae tot 15H00. Hou asseblief die weeklikse program dop.

Gedragskode

Gaan asseblief die gedragskode van die skool saam met u kind deur, wat in die huiswerkboekie verskyn. Voltooi dan asseblief die skeurstrokie voor in die huiswerkboek dat u wel kennis geneem het en stuur terug aan u kind se voogonderwyser. Ons doen ‘n beroep op al ons ouers om die skool te ondersteun in die nakoming van die skool se gedragskode sodat ons ‘n hoë vlak van dissipline kan bly handhaaf by ons skool.

Interhuis: 17 Januarie 2020

Ons Interhuis vind Vrydag, 17 Januarie vanaf 09H00 tot 15H00 plaas. Dit is ‘n gewone skooldag vir al ons leerders en hulle moet by die skool wees. Ons wil werklik hierdie jaar voluit gaan om die Interhoër te wen en het elke atleet in die skool nodig om dit te kan doen, moedig asseblief u kind aan om deel te neem.

Toegang tot die terrein

Ter wille van die veiligheid van uself, u kind en u eiendom word daar toegangsbeheer toegepas by die skool. U het daarom ‘n parkeerskyfie nodig om op die terrein te parkeer. Hierdie skyfies is beskikbaar by Mev. A Venter in ons finansiële kantoor teen R 10-00. Onthou asseblief u voertuig se registrasienommer indien u ‘n parkeerskyfie wil kom koop.

Program vir die week

Maandag, 13 Januarie:

  • Skool vakansie

Dinsdag, 14 Januarie:

  • Skool vakansie

Woensdag, 15 Januarie:

  • Skool heropen vir leerders.
  • Groentjiekonsertoefening, 14H15 – 15H00.

Donderdag, 16 Januarie:

  • Groentjiekonsertoefening, 14H15 – 15H00.
  • Akademiese ouerinligtingsaand graad 8, 18H00, saal.
  • Akademiese ouerinligtingsaand graad 12, 19H00, saal.

Vrydag, 17 Januarie:

  • Atletiek Interhuis 09H00 – 15H00, atletiekbaan.

Saterdag, 18 Januarie:

  • Groentjiekonsertkleedrepetisie 08H00 – 13H00.

Aflaai aanhangsel

Terug