Ingenieursgrafika en -Ontwerp

Ingenieursgrafika en -Ontwerp

Ingenieursgrafika en –ontwerp (IGO) is ‘n keusevak van Gr.10 – 12 wat internasionaal erkende beginsels onderrig wat op beide akademiese en tegniese velde toegepas kan word.


IGO fokus op spesifieke basiese kennis en verskeie tekentegnieke en –vaardighede wat die IGO-leerder in staat stel om grafiese materiaal te interpreteer en produseer in die konteks van Meganiese-, Siviele- en Elektriese tegnologie. IGO spruit voort vanuit Gr.8 en 9 Tegnologie en leerders kan hierdie vak neem as ‘n keusevak vanaf Gr.10.

Beroepsmoontlikhede

Ingenieursgrafika en –Ontwerp bied die fundamentele kennis en vaardighede vir die volgende beroepsmoontlikhede:

  • Argitektuur
  • Ingenieurswese (Siviel, Meganies, Elektries, Lugvaart, Landbou, Mynbou, ens.)
  • Mediese tegnikus
  • Industriële ontwerper
  • Binnehuise ontwerper
  • Landskapargitek
  • Boubestuur
  • Stadsbeplanner
  • Landmeter
  • Onderwys
  • Grafiese illustreerder
  • Juwelierontwerper
  • Modelbouer (skaalmodelle)
  • Tekenaar (Staalstruktuur, Argitektonies, Siviel, Ontwerp, Elektries, ens.)
  • Tegnikus
  • Vervaardiger
  • Ambagsmanne
Onderwerpe

IGO vereis van leerders om logies te kan redeneer, 2- en 3-dimensioneel te kan sien en dink, asook om kreatief te wees. Die vak word verdeel in twee hoof kategorieë, nl. Siviel en Meganies, met die volgende onderwerpe wat deur die loop van die 3 IGO-jare behandel word:

  • Basiese tekenbeginsels
  • Vryhandtekeninge
  • Instrumenttekeninge
  • Eerste- en Derdehoekse ortografiese projeksies
  • Beskrywende meetkunde en Vaste liggame
  • Meganiese werkstekeninge
  • Siviele werkstekeninge
  • Isometriese tekeninge
  • Perspektieftekeninge
  • Elektriese diagramme
  • Deurdringings en ontwikkelinge
  • Lokusse van helikse, nokke en meganismes
  • Die Ontwerpproses tydens Praktiese Assesseringstake (PAT)

Leerders doen jaarliks een groot Praktiese Assesseringstaak wat 25% van hul finale jaarpunt opmaak. Hierdie taak word tydens die eerste kwartaal ontvang en deur die loop van die jaar voltooi, afhangend van Graad. Die taak vereis van leerders om krities en kreatief te dink om gegewe probleme op te los deur die tekentegnieke en –vaardighede wat hul geleer het. Leerders sal toegang tot internet en/of koerante en tydskrifte benodig om die navorsing in Fase 1 van die PAT te kan voltooi. Die taak neem ook ‘n lang tyd om te voltooi wat nie altyd voor voorsien kan word tydens klastyd nie. Leerders sal dus verwag word om na ure hul take by die skool te voltooi.

Tekentoerusting

IGO is ‘n spesialis-vak en die onderwerpe en vaardighede wat binne IGO geleer word vereis toegewydheid en harde werk tesame met die gebruik van spesifieke akkurate toerusting. Voordat ‘n leerder die vak aan die einde van Gr.9 kies, moet die voorvereistes vir IGO in ag geneem word. Elke leerder wat IGO wil neem is verantwoordelik om sy/haar eie volledige tekentoerusting aan te skaf en kostes daaraan verbonde te dra. Toerusting kan by verskeie winkels aangeskaf word as individuele stukke asook in vol pakkette.

Elke leerder moet die volgende toerusting besit voor die aanvang van die eerste skooldag:

  • A3-tekenbord met ‘n T-haak (verkieslik met ‘n lap-sak waarin dit gebêre kan word)
  • Maskeerband
  • 0.3 ‘Pacer’ met 2H, 3H of 4H lood
  • Uitveër wat uitsluitlik vir IGO is
  • 30°/60° tekendriehoek (Groot, nie die Wiskundige passerstel se driehoek nie)
  • 45° tekendriehoek (Groot, nie die Wiskundige passerstel se driehoek nie)
  • Stewige passer met ‘n verstelskroef (Nie die Wiskundige passerstel se passer nie)
  • Gradeboog
  • Sakrekenaar
Minimum formele assesseringsvereistes vir Ingenieursgrafika en –Ontwerp
Graad 10:
  • Twee toetse
  • Twaalf kursustekeninge (Sketse wat in klastyd voltooi word vir punte)
  • Halfjaareksamen
  • Een PAT
  • Finale eksamen (Twee vraestelle van 2 ure elk)
Graad 11:
  • Twee toetse
  • Dertien kursustekeninge (Sketse wat in klastyd voltooi word vir punte)
  • Halfjaareksamen
  • Een PAT
  • Finale eksamen (Twee vraestelle van 3 ure elk)
Graad 12:
  • Twee toetse
  • Vyftien kursustekeninge (Sketse wat in klastyd voltooi word vir punte)
  • Halfjaareksamen
  • Voorbereidende eksamen
  • Een PAT
  • Finale NSS-eksamen (Twee vraestelle van 3 ure elk)


Vir die nuutste uitslae en nog meer foto's volg ons gerus op Facebook:
Facebook blad



Terug