Kalender

Nuus

Voortrekkers

2015 - Ruan Kruger – Presidentsverkenner Toekenning

                    

Ruan is nou alreeds vir 12 jaar ʼn Voortrekker waar hy op verskeie vlakke uitgeblink het en ook verskeie hoogtepunte beleef het.  Elke jaar was hy deel van span- , gebieds-, see-, verkennings- of kommando-kampe. Elke jaar het hy  in bv. sake soos die volgende gespesialiseer: Ek weet, Anglo Boere oorlog, Paraatheid, Vliegkuns, Radiospraak, veldkook om maar net ‘n paar te noem. In sy finale jaar as verkenner-kommandojeugleier  behaal hy die hoogste toekenning, naamlik:  Presidentsverkenner.

Ruan het ‘n gemiddeld van 88 % vir die teoretiese vraestel verwerf en aan al die bykomende vereistes voldoen om die Presidentverkennerkamp by te woon. Vir die kampvereistes het Ruan ‘n gemiddeld van 89 % verwerf vir onder andere: Burgerskap, Voortrekkerwees en Persoonlike leierskap. Die prestigewaarde van die kamp word voorts beklemtoon dat persone soos Andries Vrey, die uitvoerende hoof van Aardklop, Jaques de Villiers, beter bekend as Afrikaanse sanger Josua na die Reën en oud-Springbok rugby-kaptein Theuns Stoffberg as sprekers opgetree het.

Ons is baie trots op hom, nie net vanweë sy prestasie wat hy behaal het nie, maar ook vir wie hy is, ‘n stil leier wat op ‘n baie nederige en terugetrokke wyse ‘n navolgenswaardige voorbeeld is vir ander leerders en self volwassenes. Sy harde werk, toewyding,  deursettingsvermoë en algemene kennis  word raakgesien.

Baie geluk met hierdie trotse en besondere prestasie, Ruan!!!

Wat behels Voortrekkers?

 
                                           

Maak ‘n positiewe verskil in jou kind se lewe.

 

Soos oud president Nelson Mandela gesê het: “History will judge us by the difference we make in the everyday lives of children.”

 

Dit is hoe ons ook voel, en daarom bied ons jou kind die volgende:

  • Konstruktiewe Tydsbenutting - Kinders leer en oefen praktiese vaardighede soos noodhulp, brandbestryding, handwerk, fietse in stand hou, verkeersreëls en kos maak, om maar net ’n paar te noem, terwyl kreatiwiteit ontgin en aangemoedig word.
  • Ondersteuning – Die span waarin die kind ontwikkel, word oor die jare baie goeie vriende wat mekaar deur-en-deur ken, vir mekaar omgee en dikwels lewenslange vriende bly. Hierdie kinders help mekaar ook deur die skoolloopbaan.
  • Grense en Verwagtinge – Omdat die volwassene saam met die kind beweeg, is dit makliker om die kind se gedrag tussen sy maats te moniteer en kan die gedrag doelbewus beïnvloed word. Op hierdie wyse leer kinders aanvaarbare gedrag baie vinniger aan.
  • Bemagtiging – Kinders vervul reeds van kleins af verskillende rolle. Dit ontwikkel hulle selfvertroue en verantwoordelikheidsin. Die selfvertroue word versterk deur die verskeidenheid vaardighede wat die kinders aanleer en dan op ander plekke kan gebruik.
  • Avontuur – Avontuur vorm ’n baie belangrike element. Terwyl die kinders klein is, word die avontuur hoofsaaklik gebied deur ’n oorslaap en uitstappies. Soos die kinders groter word, begin kampe in die natuur ’n al hoe groter rol speel.
  • Pret – Gesonde pret is die belangrikste kenmerk van ons aktiwiteite vir die kinders. Ons is veronderstel om die lewe te geniet en hier geniet ons die lewe soos God wil hê ons dit moet geniet.

 

 

Dit en vele meer is wat die Voortrekkers jou bied!

 

By die Voortrekkers is die kennis en vaardighede wat aangebied word oor meer as 80 jaar ontwikkel en word nog steeds aangepas om by veranderende behoeftes van die kind aan te pas. Die kennis en sosiale vaardighede  pas by elke kind se ouderdom  en gee jou kind ’n voorsprong in die lewe.

 

Wie sal belangstel om by die Voortrekkers aan te sluit – almal met Christelike waardes, wat trotse Suid-Afrikaners en modern Afrikaners is.

 

“ Kaptein Jack Hindon Voortrekkerkommando se jeuglede vergader elke Maandagmiddag 17:00-18:00 by Laerskool Voortrekker-Eeufees”

 

“Arbeidsvreugde Voortrekkerkommando se laerskool jeuglede vergader elke Maandagmiddag 17:00-18:00 by Laerskool Theresapark. Hoërskool jeuglede het per span eie vergadertye en-plekke. Vir meer inligting kontak nalieslvd888@gmail.com

 

Die kontakpersone by die twee kommando’s betrokke is:

KL Liesl van Deventer

Sel:  082 899 7254

E-pos:  lieslvd888@gmail.com

 

AKL Verkennersake

Riekie Kruger

Sel:  072 469 1680

E-pos:  kruger.riekie@gmail.com

 

Copyright © 2013 PNHS. All Rights Reserved.

Developed by Wan4U